Moet ons sê: SWART LEWENS MAAK SAAK, of eerder: ALLE LEWENS MAAK SAAK?

‘n Christelike meditasie

Deur Eerw. Edwin Arrison namens SACLI

(Also in English)

‘n Fundamentele Christelike stelling is dat alle mense na God se beeld geskape is en God se lewens-asem en gees in hom of haar het (Genesis 1 en 2).

Maar wat gebeur wanneer ‘n groot groep van die mensdom (swart mense) begin skreeu: “Ons kan nie asemhaal nie!”? Die stem van hierdie mense, wat ook God se lewens-asem het, eggo hiermee die stem van God, en soek gevolglik nie erkenning of toestemming vir die kreet nie. Hoe gemaak as God se asem en gees by ‘n groot groep mense ingeperk word? Dit kan nie deug op die langtermyn nie. Hierdie stem of kreet is ook meer as ‘n kortstondige oomblik, dit is ‘n “beweging” (van God se gees).

‘N KORTSTONDIGE REAKSIE

Een reaksie op hierdie kreet word dikwels gehoor: Nee, álle lewens maak saak! Hierdie stelling word soms met ‘n neerhalende meerderwaardigheidstem geuiter, of word so ervaar.

Kom ek vra die volgende vraag: As alle lewens wel saak maak, hoekom vind swart mense dit nodig (vir ‘n paar jaar nou al) om te sê: SWART LEWENS MAAK SAAK as álle lewens wel saak gemaak het, en ewe belangrik en gelyk was?

‘N UNIEKE CHRISTELIKE PERSPEKTIEF

Een manier om hieroor te dink is om te sê dat die proses na waar almal met sekerheid en integriteit kan sê dat alle lewens saak maak, sal beteken dat almal moet begin deur te sê: “Swart lewens maak saak”. Anders gestel: Jy kan nie saam met my by die oop graf Paassondag opdaag as jy nie saam met my by die kruis van Goeie Vrydag was nie. Mý Halleluja en jóu Halleluja gaan verskillend klink. “It’s a cold and it’s a broken alleluia” (Cohen).

KONTEKS, KONTEKS, KONTEKS …

Hierdie gesprek het spesiale waarde in Suid-Afrika. Vir langer as 300 jaar, as gevolg van ‘n proses van kolonialisme, slawerny en apartheid, is verskeie dinge gedoen wat swart mense verhoed het om God se volle lewens-asem in hulle uit te leef. Dit wil nie sê dat elkeen wie hierdie artikel lees dit persoonlik gedoen het nie. Party het net onbewustelik bygestaan, dit toegelaat en daardeur gebaat. Wanneer vroue sê “Mans is gemors!”  beteken dit dat ek as man moet luister. Ek het moontlik niks gedoen om geweld teen vroue aan te blaas nie, of dalk het ek ‘n patriargale of verkragtigingskultuur aangemoedig deur klein of onbewustelike aksies, of deur niks te doen teen hierdie kultuur nie.

OM EEN SE PYN OOR TE DRA

In die Suid Afrikaanse konteks, kan die swart kreet nie net tot ‘n veralgemening afgemaak word nie, terwyl die legitieme pyn van plaasboere wat vermoor word, partykeer as ‘n superiere pyn beskou word. Dit is ‘n manier om net weereens te verhoed dat swart pyn – wat in die Suid Afrikaanse konteks die oorgrote meerderheid pyn is – uit die sentrum te haal. Nie net is dit irriterend en frustrerend vir swart mense nie, maar is dit ook hoogs onsensitief in die Suid Afrikaanse konteks gegewe ons verlede en ons hede.

DIE NODIGHEID VIR SENSITIEWE DAAR-WEES

Dit kos spesiale sensitiwiteit om bewustelik, met aandag teenwoordig te wees vir iemand anders se pyn. Dit is n proses wat ons as Suid Afrikaners nog moet leer. Die dag wanneer die oorgrote meerderheid blankes in Suid-Afrika sê: SWART LEWENS MAAK SAAK, sonder om enige kwalifikasie by te voeg, is die dag wanneer die deur tot ware versoening in Suid Afrika oopgemaak sal word.

BLANKE ROLMODELLE

Dit is nie asof ons nie ware rolmodelle in Suid Afrika het nie. Beyers en Ilse Naude, Helen Suzman en Bram Fischer se name duik onmiddellik op. Maar daar is baie ander: Antjie Krog, Wilhelm Verwoerd, David Russel, Albie Sachs en Edwin Cameron se name kan ook genoem word. Daar is oor David Russell gesê dat hy ‘n dieper Xhosa kon praat as sekere Xhosa-sprekendes! Hy was ook een van Steve Biko se belangrikste gespreksgenote en het sy liggaam op die spel geplaas deur voor ‘n stootskraper te lê toe die apartheidsregering ‘n swart familie se huis wou platvee. Ons kan ook dink aan Helen Joseph, Albert Nolan, Neil Aggett en honderde andere. Wat hierdie mense gedoen en gesê het moet in kerke, huise en skole oorvertel word en “cool” T-hemde met hul gesigte en woorde moet deur hierdie generasie gedra word sodat hulle waardes oorgedra kan word aan die volgende generasie. Anders verloor ons hierdie generasie met slagspreuke op T-hemde wat nie gesonde waardes bevat nie.

GEBROKE MENSE BREEK ANDER MENSE

Wanneer mense se pyn nie ernstig opgeneem word nie, bly hulle gebroke en word hierdie gebrokenheid dan aan die volgende generasies oorgedra. Dit is heel moontlik hoekom daar soveel geweld in Suid Afrika is. Deur te sê SWART LEWENS MAAK SAAK kan ons almal die pad na heelwording begin stap. Deur dit nie te doen nie, is ons besig om hierdie heelwording aktief teen te staan.

DIE PAD NA SAMEHORIGHEID

Dit is al baie keer gesê dat die groothartigheid en vergifnis van swart Suid Afrikaners nie nog ‘n gelyke teenreaksie ontlok het nie. Een manier om hieroor te dink is om te vra: wat is die ekwivalent van ubuntu? Oor die jare heen het ek een woord voorgestel: SAMEHORIGHEID. Vir my is dit ‘n mooi woord met ‘n dubbele betekenis: ons HOOR saam én ons HOORT saam. Dit bevat beide die idees van indaba en ubuntu.

Kan dit ons moontlik op die plek bring waar ons begin sê SWART LEWENS MAAK SAAK, sodat ons almal met eerlikheid en integriteit kan sê ÁLLE LEWENS MAAK SAAK?

Lees die Englese weergawe hier. 

One thought on “Moet ons sê: SWART LEWENS MAAK SAAK, of eerder: ALLE LEWENS MAAK SAAK?

  1. Pingback: Do BLACK LIVES MATTER or do ALL LIVES MATTER? | Volmoed Youth

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s